Gemeentegeskiedenis

Van 1959-2020 - 61 Jare van genade

(Hoofsaaklik geneem uit die publikasie “Rustig vloei die Moreletta” deur S J Kritzinger, 1980, en insette van die Kerkkantoor)

Meyerspark het op 29 Mei 1959 van die NG Gemeente Silverton afgestig met 542 belydende- en 936 dooplidmate. Die Gemeente het Denneboom, Eerste Fabrieke, Murrayfield, Val de Grace Lydiana, Meyerspark en Silverton uitbreiding beslaan, asook die plaaswyke na die ooste. Salieshoek, met slegs 30 woonerwe, en La Concorde was ook deel van die Gemeente. Salieshoek is die mees noordwestelike deel van Meyerspark, aangrensend aan Watermeyerstraat en Pretoriastraat, terwyl La Concorde die gedeelte was waar die Pick’n Pay kompleks tans is.

Die eerste leraar, Ds. N.A.S. (Bertie) Lombard (1960 tot 1971) is in Januarie 1960 ontvang.

Ds. Bertie Lombard is opgevolg deur:

  • Ds. Johan Wannenburg (1967 tot 1994)
  • Ds. Karel Struwig (1971 tot 1979)
  • Ds. Chris Botha (1973 tot 1975)
  • Ds. Bernard Mostert (1979 tot 1982)
  • Ds. Josua Loots (1979 tot 1991)
  • Ds. Awie Erxleben (1982 tot 1994)
  • Ds. Uli Trümpelmann (1992 tot 2006)
  • Ds. Floors Ellis (2000 tot 2008)
  • Ds. Dirk Venter (2004 tot 2013)
  • Ds Ignatius Rademeyer (2014 tot 2015)
  • Ds. Christiaan Ackermann (2016 tot 2017)

Tans het die gemeente 1 leraars, Ds. Ds Derick Claassens (sedert 2022) 

Aanvanklik is die eredienste in die Silvertonse Stadsaal gehou en die kerkgebou is op 10 November 1962 ingewy. Die kerk is in ‘n waaiervorm gebou, met ongeveer 500 sitplekke. Die firma Hartman en Van der Walt was die argitekte. Die kerkgebou het destyds R34 898 gekos en die bouer was mnr Bouwer. Die aankoopprys vir die orrel het R4 200 beloop en die instrument is gelewer deur SA Orrelbouers van Silverton. Die Kerksaal is op 22 Februarie 1969 ingewy en het R52 907 gekos. Die argitek was mnr. Pieter Rossouw, ‘n inwoner van die gemeente en die bouer mnr. Siglè.

Twee gemeentes het van die gemeente afgestig: In 1971 het die gemeente Skuilkrans afgestig en in 1975 het die gemeente Silvertonpark afgestig.

Die gemeente Silvertonpark het ‘n besondere verbintenis met Meyerspark in die sin dat die samestelling van Silvertonpark (Silverton uitbreidings 5 en 15) se inwoners na 1994 mettertyd sodoende verander het dat die lidmaattal tot so ‘n mate afgeneem het dat die gemeente nie langer lewensvatbaar was nie. Op 1 April 2000 het Silvertonpark weer met Meyerspark saamgesmelt nadat dit vir 25 jaar ‘n onafhanklike gemeente was. Ds. Floors Ellis het saam met die gemeente oorgekom en ‘n pos in Meyerspark aanvaar totdat hy in 2008 afgetree het.

Scroll to Top
Skip to content